Episode #1 - Die Plan
OOK BESKIKBAAR OP jou gunsteling potgooi platform
Deel Episode Op Sosiale Media
Waar om te begin?
Sjoe… ‘n Passieprojek wat amper 5 jaar (in sekere opsigte my hele lewe lank) gevat het om ‘n realiteit te word. En nou om uit te figure om ‘n beginpunt te kry om die storie agter die storie met julle te begin deel: die verlede, hede en toekoms van ‘n eenvoudige idee wat lewe gekry het. Soveel om te deel…
When all else fails, sou ek sê: begin altyd met dankbaarheid.
Dankbaar vir almal wat tot dusver na die volledige Reisigers luisterfilm geluister het.
Dankbaar vir die vriendelike en warm boodskappe wat ek van mense regoor die wêreld ontvang het.
Dankbaar vir die besonderse talentvolle groep mense wat betrokke was om my visie ‘n realiteit te maak. Jacques, Luan, Deon, Wernard, Gideon - julle is seker al moeg vir al die dankies wat ek na julle toe gestuur het, maar hier kom nog een in elk geval: dankie.
Dankbaar vir NG gemeente Elarduspark wat van die begin af net ingekoop het in die projek en julle fasiliteite en talente beskikbaar gemaak het.
Dankbaar vir Klipkouers, Jacques Basson vir die studio waar ek vandag en vorentoe opneem.
Dankbaar vir my vriende, familie en my vrou, my sielsgenoot, Lezindie wat aan my sy staan vanaf dag 1.
Dankbaar vir die skrywers van al die boeke wat ek genavors het en diep gesprekke wat ek kon hê gedurende die skryf van Reisigers.
Dankbaar vir die films, musiek en stories wat my geïnspireer het.
Dankbaar vir al my en ander se lewenservaring - goed en sleg - wat ek kon leen.
Meeste van als, dankbaar vir die kreatiewe gees wat deur ons almal vloei, wat ek ook die voorreg gehad het om nog beter te leer ken deur om Reisigers te skep…
Soos ek sê: begin altyd met dankbaarheid.
Maar, dit sal seker ook net goeie maniere wees om ook myself aan julle voor te stel.
Wel, my naam is Louis. Louis Janse van Rensburg. En ek is die skrywer en vervaardiger van Reisigers.
Reisigers was en is ‘n 100% passieprojek in die ware sin van die woord.
Alhoewel ek nog altyd kort storie draaiboeke skryf as ‘n hobby, is ek nie ‘n professionele draaiboekskrywer nie. Ek is nie in die filmindustrie nie. Ek is regtig, soos hulle sê ‘n buitestaander tot hierdie fassinerende sektor van kreatiewe kunstenaars.
Maar ek is wel in ‘n kreatiewe sektor van ‘n ander tipe: entrepreneur-ontwikkeling.
Julle sien, vir meer as ‘n dekade hardloop ek ‘n entrepreneur-opleidingsplatform met die naam ‘Heavy Chef’ (kom van die gesegde ‘never trust ‘n skinny chef’. Gaan kyk gerus daarna by heavychef.com.
Deur om self ‘n entrepreneur te wees en elke dag met entrepreneurs te werk van alle tipes, is ek bevoorreg genoeg om ‘n front row seat te hê tot van die mees innoverendste en kreatiefste individue en spanne regoor die land.
Dit beteken ook dat ek ‘n vaardigheid ontwikkel het om ‘n visie te identifiseer, te loots en doelgerig skouer aan die wiel te sit om dit ‘n werklikheid te maak.
Ek glo nie in formele besigheidsplanne nie. Maar ek is wel ‘n groot voorstaander van om ‘n duidelike visie te skep wat lei tot ‘n eenvoudige “Napkin Plan” (“servet-strategie”?) - ‘n uitkoms en eenvoudige 3-punt plan wat as my true north dien soos ek iets aanpak.
In die geval van Reisigers, was hierdie side hustle, passieprojek geen uitsondering nie.
My visie, my droom - die uitkoms wat ek wil bereik, is om Reisigers eendag op die grootskerm te sien. Ek wil ‘n fliek maak.
Inteendeel, hierdie is presies hoe ek my visie vir myself geartikuleer en neergeskryf het:
“Op 29 Junie 2026 wil ek op die metaforiese rooitapyt stap om die première van Reisigers by te woon.”
Ek het hierdie stelling amper 5 jaar terug vir myself vasgemaak. Ek kyk letterlik elke dag na die stelling. ‘n Tasbare doelwit en visie om na te jaag. ‘n Prentjie wat met elke stap meer en meer ‘n werklikheid word.
Nou ek weet uit ervaring, planne is net planne. Hoe gaan die bekende Mike Tyson-quote “Everyone’s got a plan, till they get punched in the face.”
Maar ek weet ook “consistency beats ability”; ten spyte van wat kom, is dit die mense wat deurdruk en hardegatterig iets najaag wat hulle planne ‘n werklikheid maak.
So, wat was my Napkin Plan vir Reisigers?
As ‘n industrie “outsider” met geen track record van films skryf en vervaardig nie, hoe maak ek om Reisigers in ‘n feature-length movie te skep?
Om ‘n movie te maak, enige plek, maar veral in Suid-Afrika, is ‘n baie duur proses, vol slaggate… veral aan die befondsing kant; daar is net ‘n handjie vol professionele filmvervaardigers of maatskappye wat die finansiële en operasionele hulpbronne het om ‘n vollengte film te maak.
So hoe maak ‘n mens wat van in effek ‘n stilstaande posisie beweeg?
Wel, om ‘n strategie van enige soort te skep, kort mens ‘n insig. ‘n Stuk inligting, of meer akkuraat ‘n aanname (ek sal dit selfs ‘n geloofsoortuiging noem), wat jou in staat stel om ‘n plan uit te voer.
In my geval is die insig: Hoe vind jy ‘n needle in ‘n haystack? Die needle in die geval, ‘n professionele vervaardiger/vervaardigingsmaatskappy. Hoe vind jy ‘n needle in ‘n haystack? Jy gebruik ‘n magneet.
Alles wat ek doen, is gebou op hierdie een aanname (for better or worse), dat as ek ‘n compelling storie het, iets waardevols skep, en genoeg mense vind dit waardevol, dat ‘n stuk kuns soos wat ek glo het met Reisigers, genoeg sal wees om die regte mense te lok wat my op ‘n praktiese vlak kan help om Reisigers op die grootskerm te kry.
Dus, my plan:
Stap 1: Skryf.
Stap 2: Skep.
Stap 3: Skiet.
Skryf. Skep. En Skiet.
Stap 1. Skryf.
Niks sal gebeur as ek nie ‘n storie en draaiboek het wat van ‘n topgehalte is nie. Ek het amper 3 jaar geskryf, herskryf, geskryf en nogmaals geskryf aan die Reisigers-draaiboek.
Nie net het ek die draaiboek geskryf nie, maar ek het ‘n filosofie van radikale transparency toegepas (wat ek ook deur middel van episodes soos hierdie nog uitleef), en die finale en oorspronklike draaiboek vrylik beskikbaar gestel vir enige iemand om af te laai.
Vir die wat belangstel, gaan gerus na my webwerf louis.africa/reisigers waar julle die teks kan aflaai.
Ek sit die skakel ook sommer hieronder op die episode se post en beskrywing.
Interessant genoeg het ek van mense wat voltyds in die filmindustrie is, redelik kritiek gekry hieroor. Hoe kan ek dit doen? Wat as iemand dit steel?
As ‘n buitestaander dink ek gee hierdie, in aanhalingstekens, naïwiteit my ook ‘n voordeel. In die dat ek dinge kan doen sonder voorafgesette idees. Ek volg net my instinkte. Daar is ‘n vryheid daarin.
Die skryf van die Reisigers-draaiboek was genuinely een van my top 5 mees vervullendste ervarings van my lewe.
Vol challenges - glo my, ek sal dit nog in toekomstige episodes meer met julle deel. Maar ek het soveel geleer deur die oogpunt van Jouba, Slabs, Mario en Monty, van die kreatiewe proses, myself, die lewe en soveel meer.
Skryf is terapeuties.
In die geval van Reisigers is dit ‘n tipe van ‘n meta-filosofiese uiteensetting van idees wat in my kop al sedert kleintyd rondrol.
Bottomline, Stap 1. Check.
Stap 2. Skep.
‘n Draaiboek is die fondasie van alles. Maar ek weet ook dit het sy beperkinge.
Mense kan dit lees, maar hoe kan ek ‘n meer immersive experience bou om die storie lewe te gee.
Ek het geweet ek moet iets skep wat toeganklik is, bekostigbaar is om te maak, kan versprei en belangrik van als vir mense ‘n fliek-ervaring gee, asof hulle in die cinema sit. Onthou,
alles wat ek doen moet my nader aan my rooitapyt-première uitkoms bring. Dit is die bestemming wat ek altyd een oog op sal hê.
Ek het deur baie opsies gegaan. ‘n Kort film. Produksie op die planke. Ek het selfs met AI-storyboards gespeel. Maar niks wat regtig uniek en vars gevoel het nie, en definitief nie ‘n direkte lyn trek na ‘n grootskerm-ervaring toe nie.
Ek is wel ‘n groot fan van fiksie-podcasts wat hoofsaaklik oorsee vervaardig word. Podcasts soos Black List Table Reads en Homecoming deur Gimlet Media het my net geboei. Die innovasie in klankontwerp en die meeslepende gevoel wat dit wek - mens verloor tyd, in die goeie sin van die woord, is net besonders.
Maar tog in SA, met ons ryk geskiedenis in storyvertel en meer relevant, radio dramas, is daar nog regtig bitter min wat vervaardig is vir die digitale era. ‘n Geleentheid wat my baie opgewonde gemaak het.
En so was die idee van ‘n potgooi film gebore.
Ek kon onmiddellik in my geestesoog sien hoe ek dit kan skep en watter ervaring dit vir luisteraars kan gee. ‘n Fliekervaring vir jou ore!
En nou, nou is die vollengte luisterproduksie van Reisigers klaar. ‘n Ongelooflike mylpaal. ‘n Absolute eerste van SA. SA se eerste potgooi-film. Is nogal awesome om dit te kan sê.
Maar stap 2 is nog ver van klaar. Die produksie is geskep, maar daar is ‘n meer in-diepte reis van die projek wat ook geskep moet word.
Wat ek vroeër gesê het van my dankbaarheid vir die terugvoer wat ek tot op datum ontvang het, is dat daar ‘n baie groot behoefte is vir mense om nog verder deel te wees van hierdie passieprojek. En dit is wat ek nou doen deur middel van hierdie episodes.
As deel van stap 2, trek ek nou die gordyn heeltemal terug oor die maak van Reisigers, elke aspek, soet en suur van wat ek tot op datum gedoen het, maar ook vir wat nog kom. Ek gaan radikaal eerlik wees oor hoe ek die passieprojek aanpak.
Die idee is met die episodes is dat ek gaan gesels oor die skryfproses, die produksie, ek gaan uitzoom en filosofies gesels, ek gaan inzoom en klein tegniese besonderhede met julle deel.
Maar ook onderhoude met die mense wat betrokke was: Jacques, Luan, Deon, Wernard, Gideon. Skrywers. Denkers. Mense in die industrie. ensovoorts.
Ek gaan ook spesiale reekse en projekte aankondig as uitvloeisel van Reisigers… waarvan daar reeds ‘n hele klomp op die tafel is.
En dan ook, wanneer ek kom by die maak van die film self (stap 3), gaan ek daar ook net oor alles wat daai proses gaan behels. ‘n Monster van sy eie. Gaan baie interessant wees!
Alles sal gedeel word op ons Reisigers-potgooi-kanale en sosiale media.
So, asseblief, ek moedig julle aan om ons te volg waarookal julle ons kan vind om op hoogte te bly.
Soos ek sê, ek gaan die gordyn heeltemal terugtrek, so ek sal ook sterk aanbeveel as jy nog nie na Reisigers, die vollengte potgooi-film produksie, geluister het nie, doen dit nou.
Ek gaan heavy in spoiler territory in beweeg vanaf die staanspoor.
Alles wat ek deel, neem aan dat julle reeds na Reisigers geluister het.
Indien nie, vind dit as die heel eerste eksklusiewe episode op ons feeds op Apple Podcasts, Spotify, Amazon of YouTube.
Wat ons dan bring, laastens na…
Stap 3. Skiet.
In progress.
Met wat ek glo ‘n besonderse draaiboek in hand, ‘n bewys van konsep wat sterk op sy eie voete kan staan, en belangrik, genoeg mense wat meer en meer wil deel wees van Reisigers… is my “magneet” sterk genoeg om die regte persone en hulpbronne te lok om Reisigers as ‘n vollengte film vir die grootskerm te vervaardig.
Baie van wat ek tot dusver kon bereik het was in baie aspekte ‘n oefening in geloof, faith. Ek sit die effort in, glo my. Dinge gebeur nie net van self nie. Maar ek glo die almagtige universum is mal daaroor as mense iets doelgerig aanpak en dan help dit jou op baie verrassende maniere om daai doelwit ‘n realiteit te maak.
Gaan lees gerus meer oor die psigoterapeut Carl Jung en sy teorieë oor synchronicity waar betekenisvolle toevallighede voorkom sonder enige voor die hand liggende redes, maar tog is daar ‘n duidelike vorm aan dit. Fassinerend.
Ek glo en vertrou as ek met consistency en persistence my uitkoms in oog hou, sal Stap 3 ook uiteindelik realiseer. Die tydlyn wat ek in gedagte het gaan dalk korter of langer wees. Die mense en geleenthede wat my kant toe gaan kom, gaan my verras. Die struikelblokke gaan groot wees (ek sien hierdie maar net as die universum se manier om ons te toets hoe ernstig ons is oor dit wat ons aanpak).
Wat ook al vorentoe gebeur, is ek seker oor 3 dinge:
Ek gaan nuuskierig bly oor hierdie kreatiewe gees wat deur Reisigers vloei.
Ek gaan aanhou met julle deel, radikale transparency, deur episodes soos hierdie, met elke tree wat ek vorentoe neem.
En laastens, geen regrets. Wat ek, ons!, tot dusver bereik het, is reeds spesiaal. Ek besef dit. Alhoewel ek my doelwit en planne het, wat ek saam met die mense om my tot dusver kon maak, is besonders.
Dit is bevrydend om te weet dat ek iets kan aanpak sonder compromises: ‘n suiwer kreatiewe visie in die egte sin van die woord.
Maak mens nogal nederig om in Awe en Wonder te staan van iets wat geskep is wat hart het.
Ek sien uit om nog baie episodes met julle te deel.
Weereens, vind en volg Reisigers waarookal julle kan.
Die pad vorentoe gaan baie interessant wees.
Ons gesels weer binnekort.